Skaamte maak jou vinniger dood as enige ander siekte, en sy ken dié waarheid intiem. “Ek het dit 27 jaar gelede ná my MIV-diagnose geleer,” sê Criselda Kananda, stigter van die konsultasiefirma Positive Talk Services. “Nie die virus nie,” sê sy, “maar die stilte, die skaamte, die stories wat jy jouself vertel – dít maak jou werklik siek.” En vandag sien Criselda (56) steeds hoe stilte en selfhaat MIV-positiewe mense laat wag om hulp te kry en van hul geliefdes wegkruip en in eensaamheid ly.
Dié ma van drie dogters sit in verskeie gemeenskaps- en ontwikkelingsrade, is ‘n ambassadeur van vroue-ontwikkelingsinisiatiewe, en sy glo in die krag van opvoeding en bemagtiging. En deur Positive Talk Services het sy ‘n gesondheids- en welstandsplatform wat fokus op MIV-onderrig, gemeenskapsbemagtiging en psigososiale ondersteuning.…
