Enkele faktore maak of breek ’n boer se sojaboonoes, naamlik die weer of klimaat, vrugbaarheid of bemesting, kultivarkeuse, saadbehandeling, plantbeskerming, rywydte en blaarvoeding.
Daarom moet hy deeglike aandag aan die volgende gee: beplanning, grondvoorbereiding, die planter, chemiese middels/bespuitings, blaarmonitering en die oesproses, het Danie Bester, voorste boer en kenner van sojaboonproduksie van Balfour, gesê op die sojaboonboeredag wat hy elke twee jaar op sy plaas, Rietbult, in Mpumalanga aanbied.
Vanjaar het sowat 700 mense, onder wie verreweg die meeste boere is, dit bygewoon en aandagtig na die lesings geluister. Die sprekers het vier boere ingesluit, naamlik Danie, DJ van der Linde van Vierfontein en Viljoenskroon, Tyson Zunckel van Bergville en Greg McLure, voormalige houer van die wêreldopbrengsrekord vir sojabone van Illinois in Amerika, wat virtueel met die boere gepraat het.…