DIE negende oesskatting van die nasionale oesskattingskomitee (NOK), wat mielies, sojabone, sonneblomsaad, grondbone, sorghum en droëbone insluit, is nou 30% hoër as in die vorige seisoen.
Die opwaartse aanpassing was hoofsaaklik toe te skryf aan mielies, terwyl die raming vir ander gewasse onveranderd gebly het. Die NOK raam die grootte van die kommersiële mielie-oes nou op 16,325 miljoen ton, met ’n verwagte opbrengs van 6,29 t/ha. Dit is 0,9% of 146 050 ton meer as die vorige skatting.
Die produksieskatting vir witmielies is 0,1% of 8 100 ton hoër op 8,336 miljoen ton, met ’n oppervlakteskatting van 1,6 miljoen ha en ’n verwagte opbrengs van 5,21 t/ha.
In die geval van geelmielies is die skatting 7,989 miljoen ton, wat 1,76% of 137 950 ton meer as die vorige skatting is.…