Die wêreld is dinamies; heeltyd aan’t verander – polities, ekonomies, sosiaal, kultureel, tegnologies. Wêreldgebeurtenisse groot en klein, goed en sleg, het ’n invloed op hoe ons dink, voel en handel. Dis ’n stroom van aksie en reaksie. Tendense weerspieël dié veranderinge, generasie ná generasie, jaar ná jaar, seisoen ná seisoen.
Die impak van veral klimaatsverandering en gevorderde tegnologie op ons planeet en ons lewens die laaste jare was ingrypend. Dit het verander hoe ons leef, met mekaar kommunikeer, wat ons eet, hoe ons woon en werk, hoe ons aantrek en onsself versorg. Besorgdheid oor die gesondheid van die aarde én die mensdom is vandag ’n kerngedagte op byna elke vlak. Volhoubaarheid word bepleit, groter verantwoordbaarheid teenoor die omgewing én onsself. En ons reageer – ja, soms veels te stadig, maar…
