“SE MY HOE JY JOU PAP EET EN EK SAL JOU SE WIE JY IS” Die Franse epikuris Jean Anthelme Brillat-Savarin sou my vergewe dat ek sy beroemde aanhaling ietwat wysig om my siening te staaf dat die ontbytpap waarmee jy grootgeword het, ’n kiekie is van jou innerlike Gouelokkies.
Of dit stywepap, poetoepap, polenta, grits of groats genoem word; congee, kasha, atole, champurrado, genfo, jook, juk, okayu, lugaw, rød of grøg – elke kultuur het ’n tipe pap wat met warmte, grootword en omgee verbind word.
My ma was ’n papmaker extraordinaire. Dit was glad, romerig, loperig, nooit gommerig of taai nie. Dit was asof al die potensiaal van die nuwe dag in daardie kommetjie pap opgesluit was, asof sy haar drome vir ons ingeroer het by die Maltabella,…
