Daar is twee soorte mense wat jy met agterdog moet bejeën: Diegene wat jou probeer oortuig dat hulle ’n kortpad iewers heen ken (as dit regtig vinniger was, sou almal dit mos gevat het) en daai ouens wat vertel húl biltongresep is die beste. Want biltong is so uiteenlopend soos die mense wat dit eet. Dunnes, kortes, langes, vettes, maeres, lekkeres en, ja, slegtes ook! Biltong is ’n metafoor vir hoe ons ons verbeelde, verromantiseerde landelike herkoms verruil het vir die stad elke keer wanneer ons iewers ’n pakkie vakuumverpakte biltong koop saam met goed soos ingevoerde bier, knoffelbrode en Franse kaas. Dié lekkerny verskaf ook vir sy liefhebbers ’n ander manier om die land te karteer: Byvoorbeeld, elke keer as ek dink aan Wolmaransstad, dan dink ek aan die…