DIE UITDAGING Bak met amandels, kersies en sjokolade
AKTEUR ARMAND: Laekoolhidraatdonkersjokolade-brownies met amandels en kersies. Die resep is sy woonstelmaat s’n, met baie suiker. Hy pas dit sommerso in die bakproses aan. Geen suiker vir hom nie, hy volg die Keto-eetplan om daardie spiere definisie te gee.
KOSREDAKTEUR HERMAN: Amandelsjokoladetert. Met die “kommin” Marie-beskuitjie-kors (“crimplene”) as inspirasie vir sy amandelmeel en eierwit-kors. “Dit klink gesond.”
Geesdrif en testosteroon.
Daar is Armand, silwer ringetjie in die oor, stywe jeans aan die lenige lyf, hare bietjie langer as gewoonlik vir sy rol in die toneelstuk Shakespeare in Love.
En onse Herman, altyd gereed met ’n kwinkslag. Keto? vra hy nou. Is dit ’n sportsoort?
Nee, ’n dwelm, spot Armand. Verduidelik dan: “Dis baie soos banting, met net nog minder koolhidrate. Die gemiddelde…
