KENNERS sê daar was darem ook goeie dinge, soos dat elektrisiteitsvoorsiening verbeter het, landbou-uitvoer wat hoër as in 2023 was, en die regering van nasionale eenheid (RNE) wat nuwe hoop bied.
Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, sê 2023-’24 se produksieseisoen het op ’n goeie noot begin met goeie reën en boere het meer as in die vorige seisoen aangeplant.
Teen Februarie en Maart het die reën egter weggebly en die gewasse het groot skade opgedoen – in só ’n mate dat die oeste vir graan en oliesade, ondanks die groter aanplantings, 23% laer as in die vorige seisoen was.
Dit het laer voorraad en hoër kommoditeitspryse tot gevolg gehad. Teen 6 Desember het witmielies al teen R6 388/t verhandel, wat 50% hoër was as in die ooreenstemmende tyd in 2023,…