’n Boek oor die legendariese dr. Danie Craven, wat ook as Meneer Rugby hier en oorsee bekend was, het onlangs verskyn. Bok-legendes wat as Matie-studente onder Craven as breier gespeel het, soos Jannie Engelbrecht, Dawie Snyman, Morné du Plessis en Jan Boland Coetzee, vertel in die boek staaltjies oor Dok. Hier is enkele verwerkte uittreksels uit die boek:
V Jan Boland Coetzee, oud-kantman van die Maties, WP en die Springbokke, vertel: Dok het in sy afrigtersdae vele planne gehad. So is die Matie-spanne gereeld die bergpad uitgejaag. Soos ’n student nou maar is, het nie almal altyd om die boom gegaan nie, maar Dok moes ’n plan maak dat die manne die roete voltooi. In die begin het Dok oom Johnnie Meiring, Albie Basson en andere gebruik om te help…