Cecily Sash, die Suid-Afrikaanse kunstenaar wat oor baie jare ’n ryk geskakeerde oeuvre opgebou het en ook talle kunstenaars via haar werk én veral deur onderrig geïnspireer het, is op 14 Augustus in Kington, Herefordshire, dood. Sy was 94.
Sash, ’n tydgenoot van Cecil Skotnes (1926–2009), Nel Erasmus (1928) en Christo Coetzee (1929–2000), het Suid-Afrika in die 1970’s verlaat en haar in die Welsh Marches aan die westekant van Engeland, grensend aan Wallis, gaan vestig.
In heelwat besprekings van Sash se kuns is dit haar rol as onderwyseres en dosent wat benadruk word. Nié net Esmé Berman het hiervan melding gemaak nie, maar ook Heather Martienssen, eertydse hoof van Wits se kunsdepartement. Sash is deur opleiding en volgens oortuiging ’n onderwyseres, het Martienssen oor haar gesê. En volgens Berman het…
