Wat presies vir jou erfeniskos is, is ’n innerlike reis. Vir my is dit kerrieafval met witrys, stowelamsvleis met halwe snytjies witbrood bo-op, Maizena-kluitjies met kaneelsuiker, Ma se soet Vrystaatse kerrie met Mrs Ballsblatjang, asynpoeding met tuisgemaakte eiervla, melktert, Peppermint Crisp-tert, pap en sous, braaivleis en nog baie meer.
Ierse onthou
Vir my Ier is dit weer varkworsiekasserol, herderspastei, tunapastei met eiers en kapokaartappels, Brusselse spruite, sampertjies (mushy peas), colcannon (kapokaartappels met boerenkool of kool), oondgebakte beesfilet met bruinuiesop en ’n mosterdkors en pavlova.
Die Vlakte se eenvoudige smake
Doreen van der Berg wat vir my werk het baie arm in Guguletu grootgeword met net pap en suiker vir ontbyt (geen melk nie) en dan weer pap en vaal pens-enpootjies vir aandete. Hulle het ook eiers van hul eie hoenders…
