Danksy goeie reën sedert laat Desember en flukse aanplantings lyk die kans goed dat Suid-Afrika se kommersiële mielieoes dié seisoen groter sal wees as wat ’n paar maande gelede verwag is, en ook 11% groter as in die vorige seisoen.
12,5 miljoen ton is moontlik. ’n Paar maande gelede nog is gevrees droogtetoestande kan die 2019-’20-mielieoes knou, maar die vooruitsig is nou rooskleuriger, sê kenners. Minstens 12,5 miljoen ton kan gelewer word teenoor 11,3 miljoen ton in die 2018-’19-somer-seisoen, sê Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, in sy weeklikse markoorsig, wat Maandag gepubliseer is.
Sihlobo sê die Amerikaanse departement van landbou en die Internasionale Graanraad is nóg positiewer – hulle raam Suid-Afrika se mielieoes op onderskeidelik 12,8 miljoen ton en 13,5 miljoen ton. Hy sê 12,5 miljoen ton is…